Allegaartjie November 2024

Wilhelm Bernhardt - Die Herkoms van Stamvader Wilhelm Bernhardt: Wanneer is genealogiese informasie genoeg, en goed genoeg?:
In my navorsing oor die afgelope 20 jaar het ek daarin geslaag om sewe primêre bronne te vind wat potensieel lig op die geboorte, lewe in Duitsland, en afsterwe in Suid-Afrika van stamvader Wilhelm Bernhardt werp.
Hierdie bronne weerspreek mekaar op sekere punte en vul mekaar weer op ander aan. Om sake goed deurmekaar te krap, kan ten minste drie van hierdie bronne nie bó alle twyfel met die stamvader verbind word nie, alhoewel dit waarskynlik hy is na wie verwys word. Elkeen van die rekords dra egter ‘n kritieke stukkie tot die steeds onvoltooide legkaart van stamvader Wilhelm Bernhardt se herkoms by.
Die vraag wat ek dus met hierdie aanbieding vra, is eenvoudig: Wanneer is genealogiese informasie genoeg, en goed genoeg om as waarskynlik korrek aanvaar te word? Of sien ek dalk uit desperaatheid eerder antwoorde, omdat ek antwoorde wil sien?

My soektog na Brenda se ouers, met net haar DNS-resultate om mee te werk, het my in 'n virtuele reis om die wêreld geneem.
Brenda is in Johannesburg gebore en woon nou in Frankryk. Daar is vasgestel dat haar biologiese ma in Zimbabwe oorlede is, waar haar een broer steeds woon. Die ander broer, so ook van haar kleinniggies, woon in Engeland. Met behulp van DNS kon ons ‘n halfsuster aan vaderskant in Kanada opspoor.
Tydens die soektog het ek 'n navorsingsboom van honderde mense gebou, dosyne dokumente bekyk, asook verskeie potensiele familielede se DNS getoets. Die gevolgtrekking was dat Brenda se ma, haar tannie en oom elkeen 'n ander pa gehad het. Al hierdie pa's is steeds onbekend.

Na afrede het Pieter meer tyd vir navoring gehad om na korrekte informasie oor sy Aucampfamilie te begin soek.
Dit is waar die slaggate in die pad voorgekom het. In die aanbieding fokus hy op drie tipes slaggate in die pad van genealogie: Dit wat soms in amptelike bronne voorkom, plaasbegraafplase, en in misleidende bronne in die buiteland (kerke).