Die Diep Afkoms van ‘n Afrikaner

Die voordrag het oor André se voorouers vanaf die noue verlede tot en met die oorsprong van die mensdom gehandel. Navorsing oor diepafkoms is ‘n multi-dissiplinêre genealogiese navorsingsmetodologie en sluit onder andere dissiplines soos navorsing in argiewe, geskiedenis, bevolkingsdinamika, genetika en memetika in. ‘n Skyfie van ‘n bevolkingsdinamikamodel van die wêreldbevolking van die hede tot en met die memetiese Adam (die Adam van die Bybel) en verder terug tot by die genetiese Adam – die eerste mens is vertoon. Die Afrikaners is gelukkig dat daar redelik volledige rekords is vanaf die landing van Jan van Riebeeck aan die Kaap. Europese voorouers kan tot en met die vyftiende eeu nagevors word en dan droog bronne op. Voor 1500 tot die jaar 400 is daar net rekords van die adelstand want hulle moes erfreg bewys. Voor 400 is daar legendariese rekords – van die feite is werklike feite en ander feite is legendes.
Die geslagsregister in die Bybel is akkuraat want die Jode moes hul Joodsheid bewys. Die datum van die memetiese Adam is ongeveer 1890 v.C. en die datum van die genetiese Adam is 245 760 v.C.
Die spreker het ‘n tabel van sy voorouers op ‘n Excelsigblad, opgedeel in Suid-Afrika, Europa, Adelstand, 0 n.C. tot 1400 n.C. en Legendaries, 5 000 v.C. tot 0 n.C. opgestel. In totaal het hy 8 264 stamouers in hierdie lys.
Hy het van sy voorouers uitgelig, persone van die adelstand asook ‘n prokonsul in die tyd van Paulus se sendingreise, Sergius Paulus (Handelinge 13:6-12). Deesdae is DNS-toetse van groot hulp. Die spreker se hominide DNS is byvoorbeeld soos volg: Homo sapiens sapiens, 97.7%, Homo sapiens neanderthalensis, 1.7% en Homo sapiens Denisova, 0.4%.