Handgemaakte kant van Toeka tot Nou — Demonstrasie van 3 kantsoorte
Aletta Penning, 13 April 2024
As die leser met terme soos Carrickmacross, Koppieskant, Reticella en met die kunswerke van Pierre Fouche vertroud is dan het die wêreld van kant nie bekendstelling nodig nie. Vir die res van ons by die GGSA Noordtak het dié wêreld met Aletta Penning se praatjie op 13 April oopgegaan. Kantwerk is in die prag en praal era van Koning Louis XIV as ‘n gesogte kommoditeit deur die hele ou Europa gevestig. Voor sy tyd is dit net in Italië en Vlaandere beoefen. Kwaliteitkantwerk was baie werd en is selfs mee gesmokkel. Ontwerptegnieke is geheim gehou en style het geografies ontwikkel. Vir lank was dit net vir die baie welgesteldes beskore. Van dooprokke tot trourokke, onderklere, kouse en flambojante krae – kant het die modewêreld gelei.
Aletta is voorsitter van die Pretoria Kantgulde, lid van die Witwatersrandse Gulde en is reeds vir dekades ook lid van die internasionale organisasie vir kantwerk, OIDFA. Sy was by uistek dié persoon om ons meer van kant te vertel en die baie foto’s in haar aanbieding het dit mooi toegelig.
Die storie van kant in Suid-Afrika is net so interessant en letterlik en figuurlik in die land se geskiedenis ingeweef. Emily Hobhouse se rol staan sentraal in hierdie verhaal. Kyk gerus na die opname en leer meer van hierdie handwerk wat met soveel toewyding beoefen word.